20 September 2024

Michèle Nigrini vestig haar in Stanford en open eie galery
Sebastian Paulus
Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Michèle Nigrini het oor dekades haar plek in die kunswêreld gevestig. Nou skryf sy ‘n nuwe hoofstuk met die opening van haar eie intieme kunsgalery in die dorpie Stanford in die Overberg.
Hierdie galery is veel meer as ‘n blote uitstalruimte – dit dien as ‘n verlengstuk van
Nigrini se diep liefde vir die natuur en die kunste.
Nigrini, wat in April vanjaar van Rosendal in die Vrystaat na Stanford verhuis het, sê sy het gou besef dat sy ‘n ruimte nodig het om haar werk met die plaaslike gemeenskap te deel.
“Stanford is ‘n plek wat inspirasie bring – van die natuurskoon tot die gemeenskap self.”
Dit is hierdie omgewing wat ‘n groot invloed op haar werk het, veral in die manier waarop sy die streek se unieke plantegroei gebruik om haar skilderye tot lewe te bring.
Haar kreatiewe proses behels dikwels die gebruik van fynbostakke en -blomme, wat sy as natuurlike kwaste gebruik. Proteas speel’n simboliese rol in haar werk, nie net as tema nie, maar as fisieke werktuie waarmee sy unieke merke op haar doeke skep.
“Ek hou van merkmaak,” verduidelik Nigrini.
“Elke plantsoort maak sy eie tipe merk, en dit dra by tot die unieke karakter van my skilderye.” Die samevloeling van natuur en kreatiwiteit is ‘n kernaspek van haar werk, en hierdie natuurlike elemente help om die energie en diversiteit van Stanford self vas te vang.
Nigrini se werk is opgeneem in die versamelings van universiteite, kunsmuseums, banke, maatskappye en individue, nasionaal en internasionaal
Die opening van Nigrini se galery val ook op ‘n simboliese tyd saam met ‘n uitstalling van die Chelsea-blommeskou, waarvoor Suid-Afrika in Londen ‘n goue medalje gewen het, wat van 21 September tot 6 Oktober op Stanford sal pryk.
Vir Nigrini, wat al jare lank met blomme in haar werk speel, is hierdie tydsberekening ‘n betekenisvolle toeval. “Meer ideaal kan dit nie wees nie.”
Op ‘n ander vlak is Nigrini ook tans betrokke by die Woordfeesproduksie Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes, waarin haar skilderye die visuele komponent van die produksie vorm. Die skilderye, geinspireer deur die poësie van Rosa Keet, dra ‘n dinamiese visuele laag by tot die digkuns, wat deur Anna-Mart van der Merwe en Henriëtta Gryffenberg voorgedra word. “Dit is vir my’n groot eer om deel te wees van ‘n produksie wat Rosa Keet se werk vereer en om saam met sulke talentvolle mense te werk,” sê Nigrini.
• Nigrini se galery is gelee te Queen Victoriastraat 14, Stanford, en is naweke oop.
Besigtiging op ander tye kan gereël word deur’n afspraak te maak by 082 423 1970.
